Lyding en swaarkry....
Hoe moet `n Christen daarna kyk?
Die onlangse aardbewings en tsunami in Japan is maar net weer `n pynlike bewusmaking van menslike lyding en swaarkry in hierdie wêreld.
In die regswêreld en die versekeringsbedryf is daar die interessante veskynsel dat hulle altyd verwys na `n natuurrramp of ongeluk, as "an act of God" - bloot omdat geen mens daarvoor verantwoordelik gehou kan word nie.
So, altyd wanneer daar so `n ramp of tragedie plaasvind waar mense hul aardse besittings of lewens verloor, word dit toegeskryf aan God, asof Hy die oorsprong daarvan sou wees. Maar, duidelik het die regswêreld en die versekeringswese `n heel ander opvatting van God as die God wat aan ons in die Bybel bekendgemaak word.
Die Bybel praat deurlopend - Ou en Nuwe Testament - van God as `n liefdevolle, regverdige en genadige God. Daar is egter niks liefdevol, regverdig of genadig aan `n aardbewing of `n tsunami wat duisende mense se lewens eensklaps wegneem nie. Daar is ook niks liefdevol, regverdig en genadig wanneer `n kindjie met `n terminale siekte gebore word nie; of wanneer `n onskuldige voetganger doodgery word deur `n roekelose spoedvraat nie. Sulke rampe en ongelukke kan nie aan God toegeskryf word, asof Hy die brein daaragter is nie. Dit rym doodeenvoudig nie met sy karakter en wese nie.
Ons hoor werklikwaar van kerkmense wat sê dat sulke rampe direk van God af kom. Dis God wat mense `n les wil leer of hulle wil straf...! Maar, hierteenoor moet ons sê dat God nie vir die mensdom lesse wil leer buite die Bybel om nie. Alles wat God ooit vir die mensdom wou gesê het, het Hy in die Skrif laat opteken.
En, wat straf betref.... `n Mens hoor van predikers wat verkondig dat dit God is wat Japan straf omdat hulle Buddiste is...! Ons voel ook partymaal, wanneer ons `n ongeluk oorkom, dat dit God is wat ons straf vir iets wat ons verkeerd gedoen het. Hierdie siening word egter nie in die Bybel ondersteun nie. Die sentrale boodskap van die Skrif is dan juis dat God nie met ons handel volgens ons oortredinge nie. Verder, dat Jesus Christus dan juis na hierdie wêreld toe gekom het om ons, en die hele wêreld se sondes op sy skouers te neem. Hy het reeds die volmaakte offer, wat die volle losprys betaal, gebring. Dit beteken dat ons nie gestraf word vir ons oortredinge wanneer ons swaarkry nie. Ons word beslis daarmee beproef en ons karakter word gevorm, maar ons word nie gestraf nie!
Sommige mense vra waarom God dan nie keer dat sulke rampe plaasvind nie? Ons moet onthou dat ons eerstens nie woon in `n volmaakte wêreld nie. Die paradys het aan `n einde gekom toe die eerste sonde sy verskyning gemaak het. God het die wêreld wat Hy gemaak het, vervloek en daardie vloek is nog nie opgehef nie. Dit sal eers eendag by die herskepping opgehef word, wanneer ons op `n nuwe aarde gaan woon. Intussen sien ons die kentekens van `n gebroke en vervloekte wêreld rondom ons. Dit moet ons telkens laat uitsien na die nuwe hemel en aarde, waar alles volmaak gaan wees.
Tweedens leef ons in `n wêreld van oorsaak en gevolg. God het sekere natuurwette daargestel en gaan dit nie elke keer verander wanneer ons in die pad daarvan kom nie. As jy `n klip in die lug gooi, is daar die natuurwet van swaartekrag, wat beteken dat daardie klip weer gaan afkom. As `n mens in die pad daarvan kom, gaan hy seerkry. Dit beteken dat ons die geheelprentjie moet raaksien. Die aarde bestaan uit groot blokke tektoniese plate wat sedert die skepping die heeltyd aan die beweeg is. Wanneer `n groep mense hulleself inburger op `n eiland soos Japan, is dit te wagte dat hulle een of ander tyd geraak sal word deur die beweging van die tektoniese plate. Dis `n natuurwet wat in werking tree soos die klokwerk van `n horlosie - en nie omdat dit God is wat kwaad is vir die mense in Japan en vir hulle `n les wil leer of wil straf nie.
Derdens moet ons nie die fout maak om te dink dat gelowige mense - omdat hulle glo - rampe en ongelukke gaan vryspring nie. Nêrens maak die Here die belofte dat sy kinders hierdie dinge gaan vryspring nie. Wat Hy wél belowe, is dat Hy altyd en onder alle omstandighede saam met ons sal wees! Hy laat ons nooit alleen in die uur van nood nie.
Kom ons bly glo in `n liefdevolle, regverdige en genadige God. Kom ons vra, hoe wil God ons gebruik as sy verteenwoordigers om ons medemens wat deur `n ramp getref is, by te staan. En, as hulle daar vêr is... bid vir hulle!